Spring na inhoud

2026-09-14

Voor die Kryt: Hoe Seisoen 3 se Boere Hul Noemname Gekry Het

Voor die kryt kry elke boer ’n naam wat die gehoor kan skree — en wat hy self moet kan dra.

Deur Ouboet van den Berg

Die span kry die noemname voor die seisoen

Voor die kryt kry elke boer ’n naam wat die gehoor kan skree — en wat hy self moet kan dra. Regte name is eintlik net vir wanneer jy in die moeilikheid is by jou ma of wanneer jy in die hof moet verskyn. ’n Noemnaam, daarenteen, is een van die grootste voorregte wat ’n mens kan hê, want nege uit tien keer het jy dit hard verdien.

In Seisoen 3 het die manne onder die illusie verkeer dat hulle ’n keuse het in wat hul name gaan wees. Die realiteit was egter dat hulle bloot ’n idee kon voorstel om te kyk wat gebeur.

Hier is die stories agter van die skerpste noemname wat vanjaar aan ons vegters uitgedeel is:

Billy "Ritalin" van der Walt

Hierdie boer praat ongelooflik vinnig en is propvol energie. Sy mense ken hom as "Boerbok Billy", maar hy het die naam Ritalin gekry as ’n grappie om hom net so ’n bietjie te kalmeer.

Jayden "Vrouevereeniging" Saraiva

Omdat hy so lief is vir tannies, is hy as Vrouevereniging gedoop. Hy wou eintlik "Two Stroke" wees omdat hy vinnig aan die gang kom as die brandewyn eers in is.

JG "Back-Up" Niemann

Die naam sê alles. JG het eers twee dae voor die tyd gehoor dat hy in die span is. Hy is met trots die Back-Up.

Christiaan "Vark Hammer" de Klerk

As ’n varkboer wou hy graag "Kriek" genoem word, want dit was sy bynaam op skool, maar hy het uiteindelik met die hardebaard-naam Vark Hammer weggestap.

Wiehan "Chuck" Dippenaar

Hy werk met vleis en het voorgestel dat hy "T-Bone" genoem word. Die span het egter besluit op Chuck—wat dui op ’n goeie stowevleissnit én op Chuck Norris.

Henko "Hogan" / "Hou-ding" Marais

Wanneer Henko kwaad word, slaan hy bloedrooi uit. Omdat hy so effens na Hulk Hogan lyk ('n noemnaam wat hy reeds uit sy rugbydae dra), staan hy nou as Hogan of Hou-ding bekend.

Zandro "Kazeebo" Coetzee

Hy het self besluit op Kazeebo, want volgens hom is hy die man wat vinnig ’n tent kan opslaan.

Jannes "Kool Inspekteur" Snyman

Hierdie koolboer skryf graag sy eie sêdinge (soos "If you don't dare, you won't saw") en wou as "Kool Magnaat" of "Kool Kop" bekendstaan. Omdat hy soos ’n polisieman lyk, het hy uiteindelik die Kool Inspekteur geword.

JW "Ouer Skouer" Dercksen

Met sy tweede of dalk selfs sy derde skouerbesering, was die keuse maklik en is hy Ouer Skouer gedoop.

Ryno "Canetan" de Jager

Omdat hy so gebrand gelyk het, het die span geskerts hy lyk soos 'n tannie wat 'n sonbrand gekry het van buite op die stoep sit en Cane drink—vandaar die naam Canetan.

Watter een van hierdie name gaan jy op 19 September by die Heartfelt Arena uitskree? Kom ondersteun jou gunsteling boer in die kryt en kry jou kaartjies nou op iTickets!

Boere: Jayden Saraiva · JW Dercksen · Wiehan Dippenaar · Ryno de Jager · Zandro Coetzee · Billy van der Walt · Christiaan de Klerk · Henko Marais · Jannes Snyman · JG Niemann